SakeVrou – Petrie en Irma

petrie_irma

Featured article in SakeVrou.co.za

Klerestyl is gewoonlik ʼn refleksie van ʼn individu se persoonlikheid en persoonlike smaak, maar Petrie van der Walt en Irma du Toit is die baasbreine agter ʼn unieke konsep om modebewustheid in die korporatiewe wêreld in te bring om maatskappye se handelsidentiteit meer trefkrag te gee. Ons het meer oor hul besigheid, CheekiFig, gaan uitvind.

Petrie beskryf haar ontmoeting met Irma as “ʼn lotsbestemming” – ʼn byna onvermydelike samevloei van hul natuurlike talente en passies wat gelei het tot ʼn blink besigheidsplan. “My eerste herinnering van ʼn ontmoeting met Irma was by ʼn damestee wat sy vir die Cheetahs-rugbyunie se vroue in 2011 gereël het. Ek het ʼn romp uit die nuutste reeks van my winkel, Cheekicherri, aangehad en die babbelende blondekop het dadelik na my toe gekom om te hoor waar ek die romp gekry het. Dit was die begin van ons avontuur,” sê Petrie.

Irma vertel dat sy nog altyd ʼn groot aanhanger van Cheekicherri se klerereekse was en sommer vinnig by die winkeleienaar, Petrie, aanklank gevind het. “Ons was altyd aan die gesels en het vinnig ons harte gedeel oor ons toekomsvisies. Ons het ontdek dat ons dieselfde passie het vir die mooi in die lewe; nie net klere nie, maar eerder mense se ware identiteit en om vroue te help om dit te ontdek,” sê Irma.

Volgens Petrie het Irma ʼn inspirerende aard wat goed aanpas by haar unieke uitkyk op die modewêreld. Dit het daartoe gelei dat hulle ʼn buitengewone konsep ontwikkel het waardeur hulle mode gebruik tot voordeel van ʼn individu én die maatskappy vir wie die persoon werk. “Ons glo dat ons besighede ʼn uitbreiding is van wie ons as mense is en waarin ons glo. Die grondslag van ons professionele verhouding is dus gebou uit ons gesamentlike doelwit om ander vroue te bemagtig,” sê sy.

Saam het Petrie en Irma CheekiFig gestig wat maatskappye help om hul personeel se professionele kleredrag aan te pas by die kultuur en visie van die besigheid. CheekiFig help maatskappye om ʼn handelsmerk-kultuur vas te stel en elke individu volgens hierdie kultuur te stileer. Op so manier skep hulle handelsmerkgeloofwaardigheid op ʼn baie stylvoller en meer moderne manier as bloot bypassende gholfhemde. Hulle beklemtoon dat hulle steeds fokus op vryheid van uitdrukking en sorg dat elke persoon wat deur hulle stileer word steeds gemaklik is met wat hulle aantrek en hoe hulle elke dag lyk.

ʼn Modieuse begin

Petrie en Irma het albei in Bloemfontein grootgeword, maar het eers ʼn paar lewensdraaie gestap voordat hul paadjies uiteindelik gekruis het. “Ek wou ʼn stileerder wees vir so lank as wat ek kan onthou,” sê Irma. “Toe ek klein was, het ek in al my ma se kaste ingevaar en met haar juweliersware en hoëhakskoene gespeel. Nadat ek visuele kommunikasie in Kaapstad studeer het en ʼn internskap by Rooi Rose en Sarie voltooi het, het ek geweet wie ek wil wees.”

Die mode-gogga het Petrie ook al vroeg in haar lewe gebyt en sy meen dit is iets wat nog altyd in haar bloed is. “Ek het van kleintyd af die gawe gehad om modeneigings te identifiseer nog voor dit op die rakke beland. Dit was die een ding waarmee ek net natuurlik goed was en waarin ek my identiteit tot ’n mate gevind het,” sê sy.

“Mode is in ons gene. As klein dogtertjie het ek my ma ure lank dopgehou terwyl sy vir ander vroue klere gemaak het. My Ouma het weer modekursusse in Johannesburg onder Chris Lavine voltooi en so is hierdie gawe deur generasies oorgeërf.”

Petrie vertel dat haar fokus vandag grootliks is op hoe vroue die nuutste modeneigings kan gebruik om aan te trek volgens die persoon wie jy is. “My benadering is stilering van binne af buite toe. Dus begin ek by die innerlike, unieke persoonlikheid en bou van daar af die uiterlike personal branding. Dis ‘n benadering wat verskeie glanspersoonlikhede begin volg, soos Zetske van Pletsen wat binnekort haar eie klerereeks beskikbaar gaan stel.”

Irma sluit hierby aan deur te sê dat enige vrou mooi kan wees en dat hierdie skoonheid eerder van binne as van buite kom. “Ek het ʼn skoonsussie wat altyd sê daar is ʼn ‘juweel’ binne elke vrou en dit vat ʼn spesifieke oog om dit raak te sien. Ons is elkeen geskape met unieke persoonlikhede om ʼn verskillende doel op hierdie aarde te vervul. So is ons elkeen geroep vir skoonheid en soveel meer,” sê sy.

Petrie verduidelik dat indien ʼn vrou haarself beter verstaan, is sy meer instaat om haar innerlike skoonheid te ontgin en dit uiterlik te kommunikeer. “Dit is die hart agter wat CheekiFig doen – om skoonheid te ontgin. Op ʼn korporatiewe vlak leer ons individue om hul individuele voorkoms in lyn te bring met die visie van die maatskappy. Jou unieke stylprofiel maak dit vir jou moontlik om steeds jou unieke styl binne ʼn groter korporatiewe kultuur te handhaaf.”

Top modewenke

Die twee dames meen dat beplanning en struktuur hand aan hand gaan met ʼn modieuse voorkoms. “Uit my kleinhandel-ervaring het ek gou geleer as jy nie jou klerekas volgens ʼn struktuur bymekaarsit nie, sit jy gou met ʼn kas vol klere en niks om aan te trek nie,” sê Petrie.

“Absoluut,” stem Irma saam. “Wat ons jou leer is om jou voorkoms volgens ʼn tema te struktureer. Ek kan glad nie sonder my temas nie. Dit is bv. wanneer jou skoenkleur, belt en handsak – of ʼn ander item – dieselfde kleur is, gewoonlik ʼn natuurlike kleur wat herhaal word in leer, soos tan of nude. Dit bring wonderlike struktuur aan elke uitrusting. My gunsteling is ʼn paar mooi nude hakskoene. Dit pas omtrent by enige uitrusting!”

Petrie sê dat style wat in die komende lente-somer seisoen baie gesien sal word, is vroulike snitte, die afskouer-bloes en –rokkies wat herinner aan die tagtigerjare, sagte materiale en hier en daar ʼn patroon-element. Kleurgewys is poeierblou en ligpienk (‘blush’) nou gereeld op die internasionale loopplanke te sien.

Sy noem ook dat aanlyn-inkopies al gewilder onder Suid-Afrikaanse kopers word, alhoewel dit steeds nie so gewild is soos in die res van die wêreld nie. “Daar is nog baie Suid-Afrikaners wat die sensoriese ervaring van inkopies geniet, maar tog bied aanlyn-inkopies baie voordele vir mense met ʼn besige leefstyl wat op soek is na ʼn geriefliker alternatief,” sê sy.

Koop met kennis

Volgens Irma is die meeste vroue geneig om te veel klere sonder enige beplanning te koop wat noodgedwonge lei tot die “ek het niks om aan te trek nie”-dilemma. “Deur IDT Identity Coaching leer ons vroue wonderlike wenke vir klere koop en aantrek, onder meer om verskillende items te meng en te pas, hoe om ʼn kapsule-uitrusting bymekaar te sit, hoe om struktuur in jou klerekas in te bring, wat om te koop en hoe om volgens jou persoonlikheid aan te tref. Cheekicherri maak hierdie IDT-proses bekostigbaar en effektief,” sê sy.

“Met unieke en vroulike style vir elke stylprofiel en figuur maak ons dit bekostigbaar vir dames om volgens hulle stylprofiel gestileer te word. IDT bied ook verskeie klerekas herstrukturering-pakkette aan om dit wat jy tans tot jou beskikking het optimaal te benut en net die nodigste aan te koop.”

Petrie verduidelik dat CheekiFig ʼn program ontwikkel het wat besighede in staat stel om dieselfde IDT-proses te gebruik om jou maatskappy se unieke besigheidskultuur sigbaar te maak. “Die wêreldbekende outeur Peter Drucker het gesê: ‘Culture eats strategy for breakfast.’ As entrepreneurs wat passievol is oor ons visie en strategieë vir ons besighede, is dit aaklig om te dink iets so vaag soos kultuur kan ʼn besigheid se sukses so dramaties affekteer. Jou personeel is jou kultuur!,” sê Petrie

“CheekiFig help jou om binne ses weke die kultuur van jou maatskappy te transformeer – daardie atmosfeer wat jou kliënt verwelkom nog voor jy ʼn woord gesê het. Na ses weke sal jy en jou kliënte jou besigheid se unieke kultuur voel, hoor en sien!  Gaan kyk gerus hoe die eindresultaat kan lyk by besighede soos OFS Smart Repair, Salvo Capital of CPI.”

Featured article in SakeVrou.co.za

SakeVrou – Petrie en Irma